Annelie

Sunday, September 10, 2006

Of all the gin-joints in all the world...

Ek is sprakeloos. Ek is saam met my pa lughawe toe om my kaartjie terug Kaap toe op te tel (dis 'n lang storie). Het natuurlik Vrydagaand nuus gekyk en gesien Thabo Mbeki hou 'n imbizo hier in die Baai en het gedink dit sou interessant wees om by te woon, as dit net nie was vir my geswelde kliere en die koorswalms wat my elke nou en dan oorval nie.

(Met ander woorde, as ek iets oor die imbizo geskryf het sou dit soos 'n Hunter S. Thompson novel geklink het - Fear and Loathing in the Friendly City, met bewegende matpatrone en mense wat in dinosourusse verander...julle kry die idee...)

Op die lughawe aangekom sien ek die korterige Indiër-vrou voor ons by die SAL toonbank en sy lyk vir my so ’n bietjie bekend. Iets aan daai stukkie wit hare (soos Storm van X-men - en ja, mens kan haar maar met 'n super-hero vergelyk) laat die alarms afgaan en ek weet (nog voor die ou langs ons vir haar sê - "Hey, I recognize you from TV...") dis Ferial Haffajee. Op PE se lughawe. My mond val onwillekeurig oop sodat my pa moet vra wat is dit dan nou met my.

Maar sy maak klaar by die toonbank en loop oor die departure lounge na die check-in counters en ek staan haar oopmond en agterna kyk. En toe's dit ons beurt. Ek fluister vir my pa iets maar hy hoor nie so mooi nie en toe ek haar naam sê, sê hy net "Watseding?" en ek weet dit gaan moeilik wees om te verduidelik...en toe sien ek die poster-tube-dingetjie daar by die toonbank. Die label sê Ferial Haffajee, Mail&Guardian met 'n posadres daarby wat ek nie kan onthou nie en ek verbeel my ek hoor die engelekoor in die agtergrond. So toe hardloop ek agter haar aan (onthou dis PE se lughawe, dis nie so ver nie) en roep "Ms Haffajee" voordat sy by die trappe op (na die ou Dyasons op die tweede verdieping) kan verdwyn. Sy draai om en sê, "Why, thank you, you're so kind" en ek glimlag so breed sy kan nie help om terug te glimlag nie. En al wat ek sê is "you're welcome, it's no trouble..." of iets dergeliks en, toe sy omdraai, net "goodbye". Toe loop ek maar met daai groot glimlag terug na waar my pa nog met die SAL-tannie gesels.

My pa kyk my nog snaaks aan en ek probeer verduidelik dis soos 'n tienerseun met ’n garage band wat vir Mick Jagger op Heathrow raakloop en vir hom die Mars Bar wat hy laat val het aangee. Hy lag maar net en ek hou net aan met glimlag terwyl ons huis toe ry en Louis Armstrong La vie en rose sing oor die kar-radio.

Ek is later die aand kerk toe saam met my ouers en kon net nie konsentreer nie. Ek dink dit was 'n kombinasie van verskillende faktore - eerstens moes ek die hele tyd wonder of ek die ding anders kon hanteer (sodat dit kon eindig by die bespreking van 'n moontlike internskap of ten minste die uitruil van besigheidskaartjies...%@&*#!). Daarmee saam het ek ’n bietjie ekstra rooiwyn met middagete geniet en het psalms en gesange om en by dieselfde invloed op my breinfunksie as 'n stadige (dog pynlose) lobotomie...

...maar dis te verstane. Meer as een religious experience op 'n dag is seker ’n bietjie te veel gevra... ;-)

3 Comments:

Blogger Marissa said...

Ek het Saterdag 'n soortgelyke ervaring met Wilma Stockenström gehad. Sal later daaroor blog.

1:30 PM  
Anonymous Anonymous said...

Ek het 'n traumatiese ervaring met 'n eskimo gehad toe ek 'n seuntjie was, maar kan dit nie mooi onthou nie en gaan dus nooit daaroor blog nie. Soosin Ooit.

5:25 PM  
Blogger Appel said...

Dis duidelik dis vakansie - ons almal het tyd om te blog.

Annelie dis 'n wonderlike storie "soos om Mick Jagger sy Mars Bar te gee" - wonderlik! Ek dink jy moet dit vir Ferrial e-pos. Sy sal dit waardeer en - wanneer jy weer in Joburg is - nooi vir tee in die M&G kantoor, ek's seker daarvan.

Dis hoe ek op Carike Keuzenkamp afgekom het. Ek het 'n liedjie van haar benodig vir 'n play. Ek't haar gemail, sy't my haar telefoonnommer ge e-pos, ek het haar gebel en kon skaars praat. Ek het haar stem gehoor. Sy het vir my 'n kasset gepos, en ek het 'n dankie teruggepos. Sy het 'n lang brief met die hand geskryf wat ek vandag bere in 'n spesiale leer. Die ergste van dit alles was dat dit alles in my 2e jaar gebeur het.

Maar dis baie cool.

10:28 PM  

Post a Comment

<< Home